Reëls

BELA BELA VALKE MODEL VLIEGKLUB

REËLS (INGEVOLGE ART 5.1.9 VAN DIE KONSTITUSIE)

 

  1. AANSOEK OM LIDMAATSKAP

 

  • Die amptelike aansoekvorm tot lidmaatskap is by die Sekretaris/ Tesourier beskikbaar. Die prosedure vir aansoek om lidmaatskap word uiteengesit in Aanhangsel A.
  • Slegs erkende betaalmiddels, sowel as direkte inbetalings in die betrokke bankrekening (soos weergegee op die aansoekvorm), word aanvaar. Die depositostrokie moet die aansoekvorm vergesel.
  • Lidmaatskapfooi (Ledegeld) is Pro Rata betaalbaar en word bereken vanaf die eerste dag van die maand waarin aansoek gedoen word tot die einde van die betrokke boekjaar.
  • Intreefooi is ten volle betaalbaar ongeag wanneer aansoek om lidmaatskap gedoen word.
  • Aansoeke vir SAMAA lidmaatskap word direk by SAMAA se voorsitter gedoen (in afwagting van die SAMAA nommer, dien die SAMAA depositostrokie as bewys van SAMAA lidmaatskap).
  • SAMAA lidmaatskap moet jaarliks, direk na die vervaldatum hernu word (behalwe lede wat oor lewenslange lidmaatskap beskik).
  • Die beskikbare frekwensie sal deur die Sekretaris aan nuwe lede beskikbaar gestel word.
  • Opbetaalde lede sal jaarliks ‘n Valke Modelvliegklub lidmaatskapkaart ontvang.

 

  1. LIDMAATSKAPFOOI

 

  • Lede se lidmaatskapfooi word hanteer ingevolge art 4.5 van die Konstitusie.
  • Lede wat versuim om voor 1 Augustus die lidmaatskapfooi te betaal, sal ingevolge art 4.5 en 4.6.3 van die Konstitusie hanteer word.

 

  1. DIE VLIEGAREAS

 

  • Vlieëniers moet sorg dat hulle te alle tye tussen hulle vliegtuie, die klubhuis en kuipe (“pits”) area staan terwyl hulle vlieg.
  • Dit is ontoelaatbaar om oor die klubhuis, parkeergebied of kuipe area te vlieg.
  • Vlieëniers moet te alle tye vermy om naby bemande vliegtuie te vlieg en wanneer ‘n bemande vliegtuig die vliegveld lugruim nader MOET ALLE modelle so gou moontlik geland word en van die aanloopbaan verwyder word. Vlieg kan slegs hervat word as die veiligheidsbeampte so magtig.
  • Vlieëniers mag nie enige vorm van wildlewe steur wanneer hulle vlieg nie.

 

  1. FREKWENSIE BEHEER

 

  • Die frekwensiebeheerstelsel wat by Valke Modelvliegklub gebruik word is “PEN OP DIE BORD” stelsel. Die Klublidmaatskapkaart, tesame met die SAMAA lidmaatskapkaart word op die bord geplaas en vir hierdie doeleindes as die frekwensiebeheerkaart ge-ag.
  • Senders wat nie in gebruik is nie sal op die frekwensiebeheerrak bly.
  • Geen senders mag in vliegkaste gelaat word nie.
  • Senders moet afgeskakel word voordat dit op die rak geplaas word.
  • Alle nuwe senders of senders van nuwe lede sal eers deur die veiligheidsbeampte of ‘n Bestuurslid nagegaan word vir die korrekte frekwensie volgens die kristalle in die stel voordat dit gebruik of aangeskakel word.
  • ‘n Afstandtoets moet gedoen word om seker te maak dat die sender reg funksioneer en batterye vol gelaai is voordat die vliegtuig die eerste keer vir die dag gevlieg word.
  • Geen vlieënier mag een frekwensie vir langer as 20 minute per keer gebruik as daar ander vlieëniers is wat dieselfde frekwensie gebruik nie.
  • Vlieëniers wat op 2.4Ghz vlieg moet hul frekwensiekaart op die 2.4Ghz bord plaas. Nie meer as 6 vlieëniers mag tegelykertyd op die frekwensie vlieg nie.
  • Die frekwensiekaart gee aan vlieëniers toegang tot die lug. Geen vlieënier sal toegelaat word om te vlieg sonder dat die frekwensiekaart op die beheerborde aangebring is nie.
  • Indien ‘n frekwensiekaart verlore raak of by die huis vergeet word, moet dit by die veiligheidsbeampte aangemeld word om vervang te word. ‘n Tydelike frekwensiekaart of besoekerskaart moet in hierdie gevalle gebruik word totdat die verlore kaart vervang is (SAMAA kaart word deur SAMAA vervang en die klubkaart deur die Sekretaris van die Klub).

 

  1. VEILIGHEIDSREËLS

 

  • ‘n Vlieënier moet duidelik kennis gee deur “TAKE OFF” te skreeu voordat hy opstyg. Opstyging mag slegs vanaf die aanloopbaan geskied en daar moet, voordat die baan betree word, seker gemaak word dat geen ander vliegtuie kom land of opstyg nie. Na opstyging moet die vlieënier van die aanloopbaan afbeweeg en langs die aanloopbaan staan vir die duur van sy vlug.
  • ‘n Vlieënier moet duidelik kennis gee deur “LANDING” te skreeu voordat hy land. Tydens landing mag ‘n vlieënier op die aanloopbaan staan, maar moet sy vliegtuig en homself so gou moontlik daarna verwyder.
  • NOODLANDINGS kry te alle tye voorkeur. Die vlieënier moet duidelik te kenne gee dat die motor gestaak het deur “DEAD STICK” te skreeu.
  • Hoëspoed laagvlieg word nie toegelaat regoor die aanloopbaan nie, maar ten minste tien (10) meter weg (anderkant) van die aanloopbaan.
  • Geen vliegtuig mag negentig (90) grade op die aanloopbaan afvlieg en dan wegswenk nie.
  • Lede wat daarvan verdink word dat hulle onder die invloed van alkoholiese drank of verdowende middels is, sal verbied word om te vlieg. Geen alkoholiese drank of verdowende middels mag verbruik word terwyl ‘n vlieënier vlieg of nog gaan vlieg nie.
  • Geen alkoholiese drank mag binne die kuipe area gebruik word nie.
  • ‘n Lid wat op meer as twee geleenthede gewaarsku is dat hy/sy onder die invloed van alkoholiese drank of enige verdowingsmiddels gevlieg het, kan dissiplinêre stappe teen ingestel word.
  • Vlieëniers moet seker maak dat hulle vliegtuie in ‘n vliegwaardige toestand is voordat die enjin aangeskakel word.
  • Die Veiligheidsbeampte, of die aangewese persoon deur die Veiligheidsbeampte, behou die reg om enige persoon wat wil vlieg te weier indien dit, vir watter rede ookal, onveilig is om te vlieg.
  • Die Veiligheidsbeampte/aangewese persoon die het die reg om enige persoon namens die Klub oor onveilige optrede en verbreking van reëls aan te spreek en kan indien nodig, diesulkes vanaf die fasiliteite wegwys.

 

 

  1. VLIEGVELD HOFLIKHEID

 

  • Respek moet vir medevlieëniers getoon word deur nie hulle vliegtuie vol stof of olie te maak deur langdurige hoë revolusies in die kuipe area nie.
  • Die gebruik van klublede se toerusting sonder toestemming van die betrokke lid word nie toegelaat nie.

 

  1. BESOEKERS EN GASTE

 

  • ‘n Landingsfooi, soos van tyd tot tyd deur Bestuur vasgestel (tans R50,00 per dag), moet in alle gevalle deur besoekers betaal word.

–     Die aantal geleenthede waartydens ‘n besoeker van die Klub se fasiliteite gebruik mag maak is nie beperk nie maar onderhewig aan goedkeuring deur die Bestuur.

  • ‘n Besoeker mag slegs van die Klub se fasiliteite gebruik maak nadat ‘n besoekerskaart deur een van die bestuurslede aan hom/haar uitgereik is. Hierdie besoekerskaart mag slegs aan ‘n besoeker uitgereik word nadat bewys gelewer is van SAMAA lidmaatskap, die landingsfooie betaal is en hy/sy onderneem het om die klubreëls na te kom.

 

  1. TOESKOUERS

 

–     Klublede moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir toeskouers wat hulle gaste is en moet verkieslik nie toeskouers in die kuipe of op die aanloopbaan toelaat nie.

–     Toeskouers wat nie ingevolge die relevante reëls optree nie, kan deur ‘n lid van die Bestuur tot die perseel verbied word.

 

  1. LEDE IN OPLEIDING

 

  • Alle nuwe lede wat om lidmaatskap aansoek doen of besoekers/gaste, moet deur die opleidingsbeampte ge-evalueer word ten einde die vlak van vaardigheid te bepaal
  • Nuwelinge tot die vliegsport wat as lede aansluit deurloop ‘n opleidingsprogram, soos bepaal deur die opleidingsbeampte en word alleenlik toegelaat om “solo-vlugte” (alleenvlugte) te onderneem nadat die opleidingsbeampte sy goedkeuring daartoe gegee het.

 

  1. EERSTE VLUG

 

Geen ander vliegtuie word in die lug toegelaat wanneer die eerste vlug van ‘n vliegtuig uitgevoer word nie. Eerste vlugte moet vooraf met alle ander vlieëniers gereël word.

 

 

  1. ALGEMENE REËLS

 

  • SAMAA lidmaatskap en lidmaatskap tot die Klub is ‘n vereiste by die klub. Elke lid is verplig om toe te sien dat sy/haar lidmaatskap op datum is en lidmaatskapkaarte moet op versoek aan die Bestuur getoon word.
  • Voertuie mag slegs in die bestaande paaie ry en in die parkeergebied parkeer. Besoekers moet op die aangewese besoekersparkering parkeer.
  • Geen rommel mag op die terrein gestrooi word nie.
  • Alle enjins moet van ‘n effektiewe knaldemper voorsien word. Die Bestuur het die finale sê oor die effektiwiteit van ‘n knaldemper.
  • Dit sal die plig van elke lid wees om hom-/haarself by die Klub se fasiliteite en by plekke waar soortgelyke aktiwiteite beoefen word, so te gedra en op te tree dat sy/haar gedrag en optrede nie skadelik of nadelig vir die karakter of belange van die Klub sal wees nie.
  • Die fasiliteite van die Klub mag nie vir ander geleenthede as soos in die Konstitusie vervat aangewend word nie.
  • Enige onduidelikhede aangaande hierdie reels moet met ‘n Bestuurslid uitgeklaar word. Voorstelle oor enige veiligheids aspekte word verwelkom en kan aan Bestuur deurgegee word.

 

 

                                                …………………………………….…….                  …………………..…………

                                         VOORSITTER                                         DATUM

 

 

 

                                                        

                                      …………………………………              …………………………

                                         SEKRETARIS                                           DATUM

 

 

 

 

                                                                                                                        AANHANGSEL A

 

PROSEDURE VIR AANSOEK OM LIDMAATSKAP

 

 

  1. Aansoekvorms en SAMAA inligting, asook ander relevante inligting, sal deur ‘n Bestuurslid aan die aansoeker verskaf word.

 

  1. Die volgende moet onder die aandag van die aansoeker gebring word:

 

  • Hy/sy tydelike lidmaatskap vir ‘n proeftydperk van 3 maande ontvang.
  • Sy/haar aansoek nie oorweeg sal word indien hy/sy nie ‘n opbetaalde lid van SAMAA is nie.
  • Valke Modelvliegklub moontlik sal moet verskuif van die huidige perseel.

 

  1. Aansoekvorms moet voltooi en aan die Tesourier oorhandig word saam met betaling of bewys van betaling van die ledegeld en aansluitingsfooi.

 

  1. Waar fondse direk in die Klub se rekening inbetaal of elektronies oorgeplaas word, moet die nuwe lid seker maak dat sy naam korrek op die inbetaling/oorplasingsvorm ingevul word.

 

  1. ‘n Tydelike lid mag nie begin vlieg alvorens ‘n frekwensie deur die Sekretaris aan hom/haar toegeken is nie.

 

  1. Nadat ‘n aansoek deur die Bestuur oorweeg en goedgekeur is, moet die aansoekvorm aan die Sekretaris oorhandig word vir opname in die klub se databasis.

 

  1. Na afloop van die 3 maande proeftydperk sal die lid as ‘n permanente lid beskou word tensy die Bestuur grondige redes het om permanente lidmaatskap te weier (sien art 4.3.3 en 4.3.4 van die Konstitusie).

 

  1. In beide gevalle (tydelike- en permanente lidmaatskap) moet die lid skriftelik deur die Sekretaris in kennis gestel word van sy/haar lidmaatskapstatus. (sien art 4.3.3 van die Konstitusie).

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply