Konstitusie

BELA-BELA VALKE VLIEGKLUB

KONSTITUSIE

 

  1. NAAM VAN KLUB: Die Klub sal as die “BELA-BELA VALKE VLIEGKLUB (BELA-BELA FALCONS FLYING CLUB)” bekend staan (hierna die “Klub” genoem)

 

 

  1. DOELSTELLINGS VAN DIE KLUB:

 

2.1  Om die nodige fasiliteite te skep en op so ‘n wyse te Bestuur en in stand te hou dat dit vir die lede van die Klub moontlik sal wees om die sport van radiobeheerde vlieg en vlieg met volskaal vliegtuie veilig en binne relevante wetgewing te be-oefen.

 

2.2  Om die bou en vlieg van radiobeheerde modelvliegtuie en volskaal vliegtuie te bevorder en aan te moedig

 

2.3  Om alle fondse van Die Klub soos wenslik of nodig mag wees in belang van Die Klub te Bestuur.

 

2.4  Om deur huur, donasie, bemaking, uitruiling, aankoop of enige ander wettige manier van bekom roerende of vaste eiendom, hierna “Bates” genoem, te verkry en om alle eiendomsregte of besit daarvan uit te oefen in belang van die Klub (Verwys ook artikels 6 en 7 hierna)

 

2.5  Om tot voordeel van die Klub Bates te verkoop, te skenk, te ruil te verdeel of op enige manier van afstand te doen of van die hand te sit.

 

2.6  Om tot voordeel van die Klub donasies, bemakings, skenkings en voordele van enige aard, deur enige persoon, firma of korporasie of van enige bron, aan die Klub in te samel, te werf en te aanvaar.

 

2.7  Om geld te leen tot voordeel van die Klub, om so ‘n lening te ontvang deur van sy Bates te verpand deur middel van ‘n notariële varband of verbandakte.

 

2.8  Om enige wapen of uniform te ontwerp, te registreer en uit te reik soos vervat in relevante wetgewing.

 

2.9  Om deur alle aksies die lede van die Klub te bevoordeel maar nie tot die voordeel van enige individuele lid nie.

  1. REGSAANSPREEKLIKHEID.

 

3.1  Lede

 

3.1.1        Die verpligting van elke lid teenoor die Klub is beperk tot intree- en ledegelde

 

3.1.2        Lede word ingevolge hierdie konstitusie ook gebind tot die reels van die Klub (art 5.1.9) en dit is elke lid se plig om hom/haarself te vergewis van alle bepalings vervat in hierdie konstitusie

 

3.2  Die Klub

 

3.2.1        Die Klub is geensins aanspreeklik teenoor lede en/of hulle afhanklikes, gaste, besoekers of ander deelnemers  vir enige skade wat mag voortspruit uit dood, liggamlike beserings of skade aan of verlies van enige eiendom nie. Die Klub sal ten gevolge hiervan nie aanspreeklik gehou kan word vir skadevergoeding hetsy of  ten aansien van direkte gevolgskade, ongeag of sodanige skade voortgevloei het uit deelname aan die sport, teenwoordigheid by byeenkomste as afhanklike van ‘n lid, gas, besoeker of deelnemer of aanverwante bedrywighede nie.

 

3.2.2        Lede van die Bestuur sal geensinds in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik wees vir enige aspek wat voortspruit uit hul dienste aan die lede van die Klub en/of die Klub self nie.

 

  1. LIDMAATSKAP.

 

4.1 Ledetal

  • Die Klub sal uit minstens 6 lede bestaan. Indien die ledetal minder as 6 word kan die oorblywende lede besluit om voort te gaan met die Klub deur nuwe lede te werf of die Klub te ontbind soos in art 7 beskryf.
  • Die maksimum ledetal is nie beperk nie.
  • Alle lede soos in art 4.2 uiteengesit word ingereken by die bepaling van die aantal lede in die Klub.

 

4.2  Kategorieë van lidmaatskap

 

4.2.1        Gewone lid.

 

‘n Persoon, uitgesonderd persone soos in art 4.2.2 tot 4.2.7 wat lidmaatskap bekom het deur die aansoek om lidmaatskap prosedure soos  in art 4.3 beskryf.

 

 

4.2.2        Junior lid.

 

  • ‘n Persoon onder die ouderdom van 18 jaar wat lidmaatskap bekom het soos in art 4.3 beskryf word en wat nie ‘n Studente Lid is soos in art 4.2.3 hierna gedefinieer is nie.
  • Wat ‘n skolier is.

 

4.2.3        Studente lid.

 

‘n Persoon wat lidmaatskap bekom het en wat as bona-fide voltydse student by ‘n erkende naskoolse onderrig-instansie geregistreer is as student.

 

4.2.4        Tydelike lid.

 

‘n Persoon wat om lidmaatskap aansoek gedoen het maar waaraan permanente  lidmaatskap nog nie deur die Bestuur toegeken is nie.

 

4.2.5        Ere-Lid.

 

  • Die Bestuur kan namens die Klub ‘n persoon vir Ere-Lidmaatskap by ‘n algemene jaarvergadering van die Klub aanbeveel. Indien die meerderheid lede daartoe toestem, word Ere-Lidmaatskap aan die genomineerde persoon toegeken. Die aantal Ere-Lede mag nie meer as 10% van die totale ledetal (Uitgesluit Ere-Lede) wees nie.
  • ‘n Ere-Lid beskik oor alle regte en vryhede van ‘n gewone lid  (Art 4.2.1.) van die Klub
  • Ere-Lede is vrygestel van intree en ledegelde soos in art 4.4 beskryf.

 

4.2.6        Ere-President

 

  • Die Bestuur kan namens die Klub ‘n persoon as Ere-President van die Klub by die algemene Jaarvergadering aanbeveel. Indien die meerderheid van die lede teenwoordig by die genoemde vergadering ten gunste van so ‘n nominasie is, word die persoon tot Ere-President van die Klub benoem.
  • Die Ere-President sal:
    • Beskik oor alle regte en vryhede van ‘n gewone lid (art 4.2.1) van die Klub.
    • As beskermheer van die Klub optree en moet hom/haar beywer om die algemene welsyn van die Klub te bevorder en mag in die verband aanbevelings aan die Bestuur doen.
    • As raadgewer optree wanneer hy/sy deur die Bestuur om raad genader word.
    • Vergaderings bywoon soos en wanneer hy verkies of wanneer hy/sy spesifiek deur die Bestuur versoek word om ‘n vergadering by te woon
    • Oor dieselfde stembevoegdhede as ‘n lid van die Bestuur beskik
    • Vrygeskeld wees van die betaling van intree en ledegelde soos in 4.4 beskryf.

 

4.2.7        Onaktiewe lede

 

Onaktiewe lede is lede wat nie aktief vlieg nie, maar wat nogtans al hul verpligtinge teenoor die Klub nakom

4.3    Aansoek om lidmaatskap

 

4.3.1        Enige persoon wat in Radiobeheerde modelvliegtuie (Vastevlerk, Heli- of Gyrokopters, sweeftuie ens) of volskaal vliegtuie belangstel kan om lidmaatskap aansoek doen

 

4.3.2         Aansoek om lidmaatskap word gedoen op die Aansoek om Lidmaatskap vorm wat by enige lid van die Bestuur verkry kan word. Die vorm moet volledig voltooi word en vergesel wees van:

  • Deposito strokie/Bewys van elektroniese betaling van intree en ledegelde soos van toepassing op daardie tydstip.
  • Bewys van lidmaatskap van SAMAA (South African Model Aircraft Association) (Nie van toepassing op volskaal vlieeniers nie)

 

4.3.3        Alle nuwe aansoeke sal vir die eerste drie maande as tydelike lidmaatskap geag word. Permanente lidmaatskap sal in die verloop van die drie maande deur Bestuur oorweeg word vir permanente lidmaatskap. Indien permanente lidmaatskap nie goedgekeur word nie sal die betrokke aansoeker skriftelik deur die Sekretaris in kennis gestel word van die beslissing.

 

4.3.4        Die Bestuur mag enige aansoek om lidmaatskap afkeur of opskort sonder verskaffing van enige redes vir die besluit. In die geval sal die intreefooi en ledegeld wat reeds betaal is sonder enige aftrekkings aan die aansoeker terugbetaal word.

 

4.3.5        ‘n Aansoeker is alleenlik geregtig om van die Klub fasiliteite gebruik te maak nadat tydelike of permanente lidmaatskap deur die Bestuur toegeken is.

 

4.4    Intreefooi .

 

  • Intreefooi word eenmalig deur nuwe lede betaal by aansoek om lidmaatskap.
  • Die intreefooi word tydens die Algemene Jaarvergadering vasgestel.
  • Junior lede is vrygestel van die betaling van intreefooie terwyl studentelede slegs 50% van die intreefooi betaal.
  • Die Ere-President, Ere-Lede, junior lede en eggenotes van alle kategorieë lede is vrygestel van die betaling van die intreefooi.

 

4.5  Ledegelde

 

  • Ledegelde is jaarliks vooruitbetaalbaar deur alle lede behalwe waar spesifiek vrygestel
  • Ledegelde word tydens die Algemene Jaarvergadering vasgestel
  • Eggenotes van gewone lede betaal volle ledegelde indien hul aansoek doen om lidmaatskap van die Klub.
  • Ledegelde is betaalbaar op die eerste dag van die boekjaar.
  • Indien ledegelde nie ten volle betaal is op die laaste dag van die tweede maand na jaareinde nie sal lidmaatskap outomaties verval en sal die betrokke lid weer moet aansoek doen vir lidmaatskap.
  • Ledegelde is Pro-Rata betaalbaar.

 

4.6    Beëindiging van lidmaatskap

 

4.6.1        Bedanking as lid

Lidmaatskap van die Klub moet formeel per brief, gerig aan die sekretaris van die Klub, beëindig word. Ledegelde en intreefooie is nie terugbetaalbaar in die geval nie.         

 

4.6.2        Afsterwe van ‘n lid.

Lidmaatskap verval outomaties en ledegelde kan na goeddunke van Bestuur Pro-rata aan die nagelatenis terug betaal word.

 

4.6.3        Vervalde/Verbeurde lidmaatskap.

Lidmaatskap verval of word verbeur indien ledegelde nie betaal word soos in art 4.5 hierbo uiteengesit. Indien die lid weer wil aansoek doen om lidmaatskap moet die aansoek om lidmaatskap prosedure gevolg word in is die intreefooi weer betaalbaar.

 

4.7    Gaste

 

  • Gaste is persone wat deur bona-fide lede van die Klub uitgenooi word om op die betrokke lid se koste en verantwoordelikheid die Klub se fasiliteite te gebruik.
  • Gaste is vrygestel van die betaling van ‘n landingsfooi.

 

4.8    Besoekers

 

‘n Besoeker is enige persoon wat nie ‘n lid is van die Klub nie en wat van die Klub se fasiliteite gebruik wil maak. Besoekers sal slegs toegelaat word om die fasiliteite te gebruik indien daar aan die volgende vereistes voldoen word:

  • Die besoeker ‘n volopbetaalde lid van SAMAA is (Nie van toepassing op volskaal vlieeniers nie)
  • Die besoeker  reelings met die voorsitter of  Sekretaris van die Klub, of indien nie een van hulle teenwoordig is nie met‘n ander lid van die Bestuur getref het om van die Klub se fasiliteite gebruik temaak.
    • Die besoeker die landingsfooi soos van tyd tot tyd deur Bestuur bepaal, betaal het.

 

  1. BEHEER VAN KLUB

 

5.1  Bestuurskommittee

 

5.1.1        ‘n Bestuurskomittee sal  uit die volgende verpligte lede bestaan:

  • Voorsitter
  • Onder-voorsitter
  • Sekretaris
  • Tesourier
  • Opleiding
  • Veiligheid
  • Terreinbestuurder

 

Enige ander lede in paragraaf 5.2 8  genoem is nie verpligtend nie en kan na goeddunke van bestuur soos benodig aangewys word op ‘n Algemene of  Spesiale Algemene Jaarvergadering.

 

Minstens drie van die lede van die bestuurskommittee moet uit modelvliegtuig vlieeniers gekies word behalwe as op die algemene jaarvergadering ‘n spesifieke besluit geneem word om hierdie persentasie vir die betrokke jaar te wysig.

 

5.1.2        Die Bestuurskommittee neem bindende besluite namens die lede ten opsigte van die reels, aktiwiteite, eiendom, besigheid en sake van die Klub en Bestuur en beheer die Klub in terme van die konstitusie ten einde die doelwitte van die Klub te bereik.

 

5.1.3        Die Bestuur keur uitgawes vir lopende koste ingevolge die goedgekeurde begroting goed. Die Bestuur is nie gemagtig om oorspanderings van meer as 20% op die goedgekeurde begroting goed te keur nie. Indien oorspanderings van meer as 20% bo die goedgekeurde begroting be-oog word moet Bestuur sodanige goedkeurings tydens ‘n Spesiale Algemene Vergadering  verkry.

 

5.1.4        Enige vakatures wat op die Bestuur ontstaan gedurende die verkose tydperk en tussen Algemene Jaarvergaderings kan deur Bestuur gevul word deur ko-optering.

 

5.1.5        Bestuur moet vergader soos en wanneer deur die Voorsitter of twee ander lede van die Bestuur nodig geag mag word. Notules van alle vergaderings moet gehou word en tydens die eersvolgende vergadering vir goedkeuring voorgelê word. Notules moet in kronologiese volgorde in ‘n notuleboek gehou word.

 

5.1.6        Tydens ‘n Bestuursvergadering sal drie lede van die Bestuur ‘n kworum vorm. Al drie die lede moet “permanente” lede van die Bestuur wees.

 

5.1.7        Bestuur is gevolmagtig om skenkings gelykstaande aan vier maal die lidmaatskap soos vasgestel op daardie tydstip aan enige persoon of instelling te maak. ‘n Skenking, groter as die genoemde bedrag kan slegs deur ‘n Algemene of Spesiale Algemene Jaarvergadering goedgekeur word.

 

5.1.8        Bestuur kan beamptes, agente, werknemers of kontrakteurs aanstel om take vir en/of namens die Klub te doen, hulle vergoeding te beding, hulle te betaal en af te dank soos en wanneer nodig.

 

5.1.9        Bestuur moet reels vir die Klub wat nie teenstrydig is met hierdie Konstitusie nie opstel en in stand hou.

 

5.1.10    Die Bestuur moet indien nodig dissiplinêre ondersoeke in belang van die Klub uitvoer en die nodige tugmaatreels neem.

 

5.1.11    Bestuur moet toesien dat alle finansieële verpligtinge wat in enige maand deur die Klub aangegaan word, gedurende die volgende maand of so gou moontlik daarna betaal word.

5.1.12    Bestuur moet te alle tye die belange van die Klub en lede op die hart dra sonder om enige individu op enige manier bo ander lede te bevoordeel.

 

5.2  Funksies, verpligtings en volmagte van Bestuurslede

 

5.2.1        Voorsitter

 

5.2.1.1  Moet die nodige leiding neem om toe te sien dat alle ampsdraers hulle pligte toereikend nakom asook om enige reelings vir hulp en ondersteuning aan ampsdraers te tref.

5.2.1.2  Moet hom/haar beywer om toe te sien dat ‘n goeie gesindheid tussen die lede van die Klub heers en om dit uit te bou en te bevorder

5.2.1.3  Moet toesien dat aan die vereistes van die konstitusie en relevante wetgewing voldoen word

5.2.1.4  Moet soos en wanneer nodig relevante dissiplinering van ampsdraers en lede toepas

 

5.2.2        Onder-voorsitter

 

5.2.2.1  Moet die voorsitter bystaan met al sy verpligtinge soos in 5.2.1 hierbo genoem.

5.2.2.2  Moet in gevalle waar die voorsitter nie teenwoordig kan wees nie die pligte van die voorsitter oorneem en hanteer

 

5.2.3        Sekretaris

 

5.2.3.1  Hou notules van alle vergaderings van die Klub, sien toe dat dit goedgekeur word en versprei dit aan alle betrokkenes.

5.2.3.2  Hanteer alle korrespondensie in verband met Klub sake.

5.2.3.3  Moet ‘n lederegister van alle lede daarstel en in standhou

5.2.3.4  Stel agendas vir alle vergaderings op en sien toe dat dit tydig aan alle betrokkenes beskikbaar gestel word.

5.2.3.5  Reel vergaderings (datum, tyd en plek) soos en wanneer versoek deur Bestuur of lede.

 

5.2.4        Tesourier

 

5.2.4.1  Moet toesien dat behoorlike rekenkundige rekords van van alle finansieële sake van die Klub gehou en bewaar word

5.2.4.2  Moet sorg dat alle rekeninge tydig betaal word.

5.2.4.3  Moet gelde ontvang, in die Bankrekening deponeer en dit te boek stel.

5.2.4.4  Moet alle finansieële sake (insluitend relevante finansieële state) tydens die Bestuursvergaderings en Algemene- of  Spesiale Algemene Jaarvergaderins voor hou vir goedkeuring.

 

5.2.5        Terreinbestuurder

 

5.2.5.1  Moet die nodige reëlings en beheermaatreëls instel ten einde toe te sien dat alle fasiliteite wat deur die Klub gebruik word in ‘n goeie bruikbare toestand gehou word.

5.2.5.2  Netheid van die fasiliteite (geboue en terrein) is die verantwoordelikheid van die terreinbestuurder.

 

5.2.6        Veiligheidsbeampte

 

5.2.6.1  Moet verseker dat alle persone te alle tye en in alle opsigte veilig optree by die Klub se fasiliteite.

5.2.6.2  Die veiligheidsbeampte is gemagtig om enige gewone lid aan te wys om met die uitvoering van sy/haar pligte behulpsaam te wees of om die pligte namens hom/haar uit te voer.

5.2.6.3   ‘n Stel veiligheidsreels wat op ‘n Bestuursvergadering goedgekeur moet word moet deur die veiligheidsbeampte opgestel word en aan alle lede, gaste en besoekers oorhandig word by aansluiting of tydens besoeke aan die Klub fasiliteite.

 

5.2.7        Opleidingsbeampte.

 

5.2.7.1  Om alle vliegopleiding wat deur die Klub aangebied word te reel en te ko-ordineer.

 

5.2.8        Ander beamptes.

 

5.2.8.1  Ander beamptes soos ‘n Webmeester, Modelvliegsport verteenwoordiger, toesighouers by Klubgeleenthede ens. kan deur Bestuur aangewys word soos en wanneer benodig en hulle pligte om behoorlike Bestuur te verseker bepaal.

 

5.3  Algemene Jaarvergadering

 

5.3.1        Die Algemene Jaarvergadering van die Klub sal jaarliks binne twee maande na die verstryking van die voorafgaande finansieële jaar gehou word

5.3.2        Die datum tyd en plek waar die vergadering gehou word,  sal deur die Sekretaris in oorleg met die ander Bestuurslede bepaal word. Kennisgewing van die vergadering en die agenda vir die vergadering sal minstens 14 dae voordat die vergadering plaasvind aan die klublede beskikbaar gestel word.

5.3.3        Die lede teenwoordig by die vergadering sal die kworum vorm maar minstens drie Bestuurslede moet teenwoordig wees.

5.3.4        Die Voorsitter van die Klub sal as voorsitter van die vergadering optree of indien die Voorsitter nie teenwoordig kan wees nie sal die onder-voorsitter as Voorsitter van die vergadering optree.

5.3.5        Vergadering reelings asook die agenda moet sover doenlik aan lede per e-pos versprei word minstens sewe dae voor die vergader datum.

5.3.6        Die agenda sal op die dag van die vergadering, voor die vergadering in aanvang neem weer onder die lede teenwoordig op die vergadering versprei word.

5.3.7        Besprekingspunte wat lede op die Agenda geplaas wil hê moet minsten 14 dae voor die vergader datum aan die Sekretaris verskaf word vir insluiting op die agenda.

5.3.8        Enige opbetaalde lid teen wie geen dissiplinere ondersoeke hangend is nie sal geregtig wees om die Algemene Jaarvergadering by te woon, voorstelle te maak, aan besprekings deel te neem en te stem. Junior- en Tydelike lede (Art 4.2.2 en 4.2.4) is nie stemgeregtig nie.

5.3.9        Stemme sal uitgebring word deur deur die opsteek van hande of op ‘n ander manier soos deur die Voorsitter verlang.

5.3.10    Die meerderheid stemme van stemgeregtigde lede teenwoordig sal die uitslag van enige saak bepaal.

5.3.11    Die Voorsitter of waarnemende Voorsitter sal in die geval van ‘n staking van stemme die beslissende stem hê.

5.3.12    Elke lid wat mag stem en teenwoordig is, sal geregtig wees om die aantal stemme uit te bring in ooreenstemming met die aantal vakatures/ampte wat gevul word.

 

5.4  Finansies

 

5.4.1        Die Klub se finansieële jaar sal strek van 1 Junie van elke kalender jaar en sluit op 31 Mei van die daaropvolgende jaar.

5.4.2        Alle gelde wat deur die Klub ontvang word sal in die naam van die Klub by ‘n geregistreerde handelsbank in die Republiek van Suid Afrika gedeponeer en gehou word vir beskikking daarvan deur die Bestuur in die normale bedrywighede van die Klub onderhewig aan die bepalings van hierdie konstitusie.

5.4.3        Alle onttrekkings dokumente moet deur deur die Voorsitter en Tesourier onderteken word.

5.4.4        ‘n Jaarverslag wat ‘n opgawe van die finansieële sake van die Klub, gemeet teen die goedgekeurde begroting van die verslagjaar insluit moet aan die vergaderiung voorgelê word vir goedkeuring. Insgelyks moet ‘n begroting vir die volgende finansieële jaar wat deur die Voorsitter en Tesourier opgestel is en deur Bestuur goedgekeur is aan die vergadering voorgelê word vir goedkeuring.

 

5.5  Spesiale Algemene Jaarvergadering

 

5.5.1        ‘n Spesiale Algemene Jaarvergadering kan belê word :

  • Op versoek van Bestuur te eniger tyd as dit nodig geag word
  • Op versoek van minstens 15% van alle opbetaalde lede by wyse van ‘n versoekskrif waarop alle betrokke lede se name verskyn asook die volle besonderhede van die redes waarom die vergadering nodig geag word.
  • Op versoek van enige lid met verskaffing van alle redes waarom die vergadering nodig geag word onderhewig aan goedkeuring deur Bestuur.

5.5.2        Behalwe dit uiteengesit in 5.5.1 hierbo geld alle reels vir ‘n Algemene Jaarvergadering soos in art 5.3 hierbo vir ‘n Spesiale Algemene Jaarvergadering.

 

  1. OORGANG (VESTIGING) VAN EIENDOM

 

6.1  Die bates van die Klub sal vestig in twee trustees naamlik die Voorsitter en die Tesourier van die Klub.

6.2  As die trustees sou nalaat om op te tree of op enige wyse die amp neerlê sal die oorblywende lede van die Bestuur plaasvervangers vir die doel nomineer. Die genomineerdes sal vir die doel verantwoordelik bly totdat die Bestuur vir die volgende finansieële jaar verkies is.

6.3  In geval van likwidasie of ontbinding van die Klub sal enige oorblywende bates hanteer word ooreenkomstig die bekragtiging van die besluite tydens ‘n Algemene- of  Spesiale Algemene Jaarvergadering. In geval van Likwidasie word  besluite hanteer ooreenkomstig relevante wetgewing.

 

7                    ONTBINDING VAN DIE KLUB

 

In die geval waar die Klub ontbind word sal alle bates in trust geplaas word vir ‘n tydperk van drie jaar. Die lede van die laaste gekose Bestuur moet hierdie trust stig en sal indien die Klub nie weer binne die tydperk van drie jaar herstig word nie die oorblywende bates/gelde aan SAMAA of  ‘n soortgelyke Klub van hul keuse skenk. Die skenking mag egter nie tot voordeel van ‘n individu aangewend word nie.

 

8                    GEWAARMERKTE KONSTITUSIE

 

‘n Afskrif van hierdie konstitusie, geteken deur die dienende Voorsitter en Sekretaris van die Klub sal as ‘n gewaarmerkte afskrif van hierdie konstitusie dien en so ‘n afskrif sal te alle tye ter insae by die Sekretaris en/of Tesourier beskikbaar wees.

 

Vir ‘n kopie van die konstitusie druk hier.

Stel belang om ‘n lid te word?  Kliek hier vir die aansoekvorm.

Leave a Reply